Wat moet jy alles in jou hospitaaltas pak?

Jy’s in jou laaste trimester… Die babakamer is uitgeverf, die kot is opgeslaan en die hospitaaltas vir Mamma en Baba is al vir die vyfde keer oorgepak.
Wat mόét alles ingepak word vir die dag wanneer Baba sy/ haar opwagting maak? Hier volg ’n lysie en paar riglyne van dinge wat noodsaaklik is.
Vir Baba:
- ’n Mussie.
- Doeke! Jy kan self besluit watter maak en watter tipe doek, maar doeke is een van die belangrikste dinge om te pak. Die grootte 0-doeke het ’n gaatjie waardeur die naelstring pas, maar indien jy grootte 1-doeke het, of doeke wat nie die gaatjie het nie, kan jy die boonste deel net omvou. As jy vermoed jou baba gaan baie klein wees, is die 0-grootte ’n goeie keuse. Ons het ’n nommer 1 pak ingepak en dit het gewerk vir ons seuntjie wat 3,05 kilogram geweeg het.
- Tydens badtyd gaan jy ’n handdoek, en lyfroom nodig hê. Ons hospitaal het handdoeke verskaf, maar jy kan jou eie ook inpak. Die suster by ons hospitaal het ons ook geleer om Baba se gesig met ’n klein stukkie watte af te vee. Elke hospitaal en mamma is anders – so besluit of self jy dit sal wil inpak, of nie. Ek sal ook aanraai dat jy lyfroom en boudsalf gebruik wat spesiaal vir sensitiewe velletjies is en nie enige reukmiddels bevat nie.
- Die naelstring. Om die naelstring skoon te hou, kan jy surgical spirits en oorstokkies inpak.
- Watter klere pak ’n mens in en hoeveel stelle klere is genoeg? Jy moet wessies en babygrows inpak. Al word Baba in die somer gebore, sal ek voorstel dat jy langmou pakkies inpak vir die hospitaal. Daar is lugverkoelings aan, en hulle sukkel nog om hulle eie liggaamstemperatuur te reguleer. Dit hang af hoeveel dae julle in die hospitaal gaan bly, maar ek sou sê vyf stelletjies klere is genoeg. Pak kousies, wessies, babygrows en mussies in.
- Ons het sagte fleece-kombersies ingepak en dit het baie lekker gewerk vir Baba se eerste paar dae op aarde.
- Die meeste hospitale het ’n diens waar jy Baba daar kan registreer. Dis noodsaaklik dat Mamma en Pappa se ID-dokumente ingepak is.
- Medikasie is een van daardie dinge wat verskil van baba tot baba en mamma tot mamma. Ons baba was baie gesond, so ons het geen medikasie gebruik nie, maar die hospitaal het net vir hom Reuterina druppels gegee.
- Ekstra – jy kan altyd ’n spesiale teddiebeer of bordjie ook inpak, indien jy ’n mooi foto van jou pasgebore baba wil neem of net om dit spesiaal te maak.
*KoekemakrankaTips
- Ek het twee sakke vir D’Niel gehad. Die een sakkie was alles wat hy nodig gehad het vir die eerste dag. Ek’t ’n keiser gehad en was so bang gewees die susters of iemand moet skarrel om vir D’Niel ’n doek of salf te kry, so ek het 3x doeke, boudsalf, mussie, een stel klere, surgical spirits en oorstokkies en kombersies in een tas gepak. Ek het nog ’n tas gepak met sy benodighede vir badtyd, nog stelle klere vir die ander dae en nog ekstra goedjies in.
- Ek’t ook elke dag se stel klere in ’n Ziploc-sakkie gepak sodat alles bymekaar is en ’n mens nie na iets hoef te soek nie.

Fotograaf: Anje-Ilana van Dalen van Madison & West Lifestyle Photography
Vir Mamma:
- Mooi, maar gemaklike stel pajamas. Indien jy van plan is om te borsvoed, is dit wys om nagklere te koop met knopies, of met bandjies wat maklik kan op en af vir borsvoed. Moet ook nie iets koop wat jou gaan druk of ongemaklik sit nie, veral nie as jy nou net ’n keisersnit gehad het nie. Ek het drie stelle pajamas ingepak.
- Indien jy ’n keiser gehad het, sal ek pantoffels aanbeveel wat nie soos plakkies sit nie, maar eerder pantoffels wat jy net kan inglip. Jy kry lelike kouse om aan te trek (wat bloedklonte voorkom) en dan is ‘slip-on’ pantoffels ’n wenner.
- Jou eie kussing. Ons almal is anders… Dalk hou jy van jou eie kussing of dalk pla dit jou glad nie, maar vat vir jou iets saam hospitaal toe wat vir jou bekend is.
- Nipple cream. As jy wel besluit om te borsvoed, is dit belangrik om hierdie roompie in jou tas te pak.
- Onthou jou selfoon se laaier!!!!! Ja, jy is dalk nie lus vir sosiale media of om almal se gelukwens-boodskappe te antwoord nie, maar jy gaan jou selfoon dalk nodig hê om jou man te laat weet as hy iets van die huis af moet saambring of as jy dalk vir jou ma of vriendin raad wil vra 02:00 die oggend…
- Maternity pads 😊.
- Borsvoed bra’s. Daar is geen bra so gemaklik soos ’n borsvoed bra nie.
- Pregnancy vitamins. Moenie jou pille weggooi nie! Jy kan jou vitamiene drink, al is Baba al gebore. Glo my, jy kort elke bietjie ekstra vitamiene. Ek’t vir my Ensure shake gekoop en dit het gehelp met al my cravings (ek’t baie geëet toe ek begin borsvoed) en dit het ook vir my ekstra energie gegee.
- My cravings het nie opgehou toe D’Niel gebore is nie, so pak lekker gesonde ‘snacks’ in.
- Jou tande- en haarborsel. Ek kan nog sonder grimering gaan, maar my tande en hare moet geborsel wees.
- ’n Stel klere en ’n paar skoene vir wanneer julle die dag huis toe gaan.
Hierdie is net die heel belangrikste dinge wat jy in jou tas moet hê. MAAR as jy iets vergeet, of dalk iets anders nodig het, moenie daaroor stres nie. Die apteke in die hospitale het gewoonlik al die bogenoemde en indien jy régtig dringend iets nodig het, is ek seker dat iemand met liefde by die huis of winkel sal stop om dit gou tydens besoektyd vir jou te bring.