skip to Main Content

Ouerskap se invloed op vriendskap

Ouerskap Se Invloed Op Vriendskap

Daar’s ’n groot deel van my lewe wat my vriendinne wat nog nie self kinders het nie, nie heeltemal verstaan nie.

Van saam matrikuleer, swot en dan werk-soek tot trou en met ’n gesin begin; kan baie dinge verander.

Sekere dinge sal nét ouers verstaan. Die intense moegheid wanneer jou baba siek is, tandekry of deur ’n growth spurt gaan, is onbeskryflik. Daar’s ’n klein mensie wat heeltemal afhanklik van jou is om na hom/haar om te sien…

Om vinnig koffie te gaan drink saam met ’n vriendin is net nie meer so maklik nie.

Soms is mense in verskillende seisoene van hulle lewe.

En ek’t altyd gedink as ’n mens nie in dieselfde ‘seisoen’ as iemand anders is nie, dan was die vriendskap maar net tydelik… Maar vandag dink ek anders hieroor. Dis definitief moontlik om mekaar se verskillende seisoene te vier. Vriendskap gaan nie nét daaroor om op presies dieselfde tyd van ’n mens se lewe op presies dieselfde plek te wees nie. Dit is onbillik om te dink en te verwag dat jy en jou vriendinne altyd op dieselfde golflengte gaan wees.

Fotograaf: Nicole van Niekerk Photography

Ek sal nooit die dag vergeet toe ons uitvind ons is swanger nie.  Die eerste persoon wat ek wou vertel was my beste vriendin- wat daai tyd duisende kilometers van my af weg was. Ek’t op die trappe by die werk gesit en ons het probeer om ’n sinvolle gesprek oor die foon te voer, want Whatsapp-call is nie altyd die effektiefste kommunikasiemiddel nie. Tussen die emosiebelaaide woordewisseling het ek nie vir een oomblik gedink dat hierdie nuwe hoofstuk in my lewe die einde van ons vriendskap kan beteken nie – en dit het nie! Al was sy daai tyd nie eers in ’n verhouding nie, wat staan nog van kinders!

Op ’n manier was ons elkeen op daardie stadium besig om ons ‘droom’ te leef – sy iewers in die Vreemde…en ek wat uiteindelik ’n ma word – iets wat ek nog altyd wou wees! En net soos wat dit nie altyd maklik is om uit ’n tas uit te leef en uit te mis op belangrike mylpale in jou vriende en familie se lewe wanneer jy ’n lugwaardin is nie – net so is ouerskap ook nie net maanskyn en rose nie.

Daar’s dinge wat ooreenstem, al is ’n vriendskap (letterlik) wêrelde uitmekaar.

Fotograaf: Nicole van Niekerk Photography

’n Ander vriendin het een oggend uit die bloute aangebied dat sy en haar broer na D’Niel sal kyk, sodat ek en my man bietjie kwaliteittyd alleen kan spandeer. Op daardie stadium was dinge rof – ons het gewerk, geëet, geslaap en verby mekaar geleef. Amper soos Demi-Lee Moore, se liedjie: “ Eet, slaap, mis, herhaal…”

Ek’t min met my vriendinne gepraat en amper net so min met my eie man wat in dieselfde huis as ek bly. En al is daai vriendin nie eers getroud nie, kon sy optel dat ek ’n oggend van “Me-time” broodnodig het. En sonder dat sy self ’n ma is, was ek verseker dat sy eintlik soveel meer van die “fase” van my lewe verstaan… Die klein dingetjies wat sy onophoudelik vir my en my gesin doen – soos vir ons bid, boodskappe stuur op die regte tyd en altyd vir my kind bederfpakkies aandra; dra waarde wat geen geld kan koop nie.

’n Ander vriendin sal net opdaag met ’n pizza of aandete… Asof sy geweet het my man gaan vanaand honger slaap. Sy’t selfs daaraan gedink om in die hospitaal met D’Niel se geboorte reeds met ’n Woolies frozen meal op te daag – “want ’n man moet ook eet”?! Sonder om twee keer te vra sal sy help met partytjiereëlings of speelgoed aandra.

Daar het ook ’n CV op my lessenaar beland – om aansoek te doen vir baba-oppas. ’n Portefeulje met foto’s van my vriendin en haar man wat na iemand anders se kinders kyk. “Sien, Liz – ons sal mooi na D’Niel kan kyk.”

Fotograaf: Nicole Van Niekerk Photography

En dan was daar die artikels en idees wat my een vriendin oor elke ding waaroor ek wonder of kla aangestuur het. Toe ek naar was gedurende my swangerskap, het sy artikels ge-Google en vir my aangestuur. Sy’t my kort-kort laat weet dat sy gehoor het dit of dat werk. Of hier is ’n special op ’n pregnancy pillow of daar is iets wat oulik lyk…

‘It takes a village to raise a child’ en dis hoekom ’n nuwe mamma vriendinne moet hê.

Fotograaf: Nicole van Niekerk Photography

Ons is so vinnig om vir nuwe ma’s die negatiewe dinge van ouerskap uit te wys.

“Jy gaan min slaap.”  “Borsvoed is so seer.”  “Om geboorte te skenk eis sy tol op jou lyf.”  “Jy gaan nou sien wie jou ware vriende is.”  “Kinders is duur.”  “Jy gee jou loopbaan op.” “Dis alleen.” “Jy gaan baie vriende verloor.”

Ja, dinge verander. Jy as mens verander wanneer jy ’n mamma word. Jou prioriteite verander. Jou lyf verander. Jy’t baie minder tyd. Die meeste koffie dates saam met vriendinne, se venue, verander na kindervriendelike restaurante toe. MAAR, as die fondasie van julle vriendskap gebou is op dieselfde waardes, belangstellings en liefde vir die lewe, dan sal julle vriendskap inteendeel net sterker word.

Die lewe is onvoorspelbaar! En net omdat ’n mens nie in iemand se ‘seisoen’ is nie, beteken dit nie dat jy nie saam met hierdie persoon hierdie fase kan vier nie.

Dalk is daar ’n deel van my lewensseisoen wat my vriendinne nie heeltemal begryp nie…en dit is méér as okay!

’n Paar tips vir ma’s:

  • Dalk gaan jou vriendinne nie alles van ouerskap verstaan nie – en dis okay! Onthou: Jy het ook nie régtig begryp wat ouerskap alles behels voordat jy ’n ma geword het nie. So, moenie verwag dat ander dit heeltemal moet begryp nie.
  • Gebruik tegnologie en stuur ’n Whatsapp wanneer jy besig is om te borsvoed, of wanneer jy in die oggend opstaan.
  • Onthou om jou vriendinne uit te vra oor hulle lewe – ’n ma is geneig om heeltyd oor haar kind te praat (en hoe dan nou anders 😊!) Maar onthou dat jou vriendin ook baie dinge het wat in haar lewe aangaan.
  • Maak jou vriendin deel van die nuwe hoofstuk van jou lewe.
  • ’n Aandjie uit saam met jou vriendinne is nodig. Laat Pappa bietjie na Baba kyk!
  • Hou aan bid vir jou vriendin(ne) en julle vriendskap.

’n Paar tips vir vriendinne wat nog nie ma’s is nie:

  • Moenie te vinnig oordeel en uitwys dat jy dinge anders sal doen wanneer jy eendag ’n mamma is nie – onthou dat kinders en ouerskapstyle verskil EN dat elke ouer elke dag nog ouerskap probeer ‘uitfigure’.
  • Herinner jou vriendin dat jy daar is vir haar – en nog steeds net so lief is vir haar.
  • Vind ’n middeweg – vra vir jou vriendin of jul mekaar by ’n kindervriendelike restaurant kan ontmoet of beplan ’n kuiertjie rondom Baba se slaaptyd.
  • Bied aan om te help met inkopies doen, badtyd of kosmaak.
  • Bid vir jou vriendin en julle vriendskap.

*Hierdie #LockDown het my weereens laat besef dat daar ongelooflike mense in ons lewe is. Mense van wie ons nie noodwendig hier ’n foto geplaas het nie… Maar mense wat die wêreld vir ons as gesin beteken… Dankie aan elke persoon wat ’n deel is van ons lewensstorie.

Fotograaf: Nicole van Niekerk Photography

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top