
Die storie agter ‘koekemakranka’
O, Koekemakranka!
Ja, my ma het hard probeer om ons Afrikaanse woordeskat uit te brei en nie te vloek nie. Die woord “koekemakranka” was ook ons gesin se wagwoord sou iets met een van ons gebeur.
Tot vandag toe is ‘koekemakranka’ vir my een van die heel mooiste woorde in Afrikaans. Dit sê lekkerder as ’n vloekwoord! En so het koekemakranka begin…
As ’n mens nie weet wat om na jou B.A Kommunikasiegraadstudies te doen nie; dan voltooi jy eers jou honneursgraad. As jy dan nog onseker is oor jou toekoms en die studentelewe aan die Universiteit van Noordwes bied onweerstaanbare uitdagings; kan jy ’n ekstra nagraadse diploma in Besigheidsbestuur aan die NWU voltooi. En dan begin die realiteit van die grootmenslewe uiteindelik tot jou deurdring…
Teen hierdie tyd het my passie vir skryf lekker nesgeskrop. Om my siel in woorde uit te druk was nog altyd ’n hartsbegeerte. Maar dis meer as ’n begeerte. Dis ’n behoefte om ’n platform te hê om die lesse wat ek in my rype 26 jaar geleer het met ander te deel.
Ek deel graag my ervaring as nuwe Mamma en die uitdagings wat gepaard gaan met ’n voltydse werk en ma-wees.
Een van die lessies wat ek geleer het is dat ’n mens soms voel jou situasie is ’n geïsoleerde geval. Allermins. En om te weet daar is ook ander vrouens en mammas wat deur dieselfde penarie gaan; is gedeelde vreugde! Wie het gesê ons mag mekaar nie sodoende inspireer, motiveer en bemagtig nie?
My ervaring as digitale bemarker en kopieskrywer het my in staat gestel om horisonne te verbreed. En hierdie horisonne kan nog breër word… En dis hoe die Koekemakranka-baba gebore is… Koekemekranka is ’n platform waar ek blog en waar jy egte Afrikaanse produkte kan koop.
As jy belangstel om saam met my te werk, kan jy my gerus kontak hier.