skip to Main Content

Beloftes aan my kind

Beloftes Aan My Kind

My liefste kind,

Wanneer dit by jou kom, sal woorde my altyd faal…

Jy’t ’n aansteeklike en borrelende persoonlikheid wat ons huis ophelder. Ek glimlag as ek dink aan alles wat jy daagliks “aanvang” en hoe jy probeer onderhandel om jou sin te kry. Jy daag my uit, put my uit en maak seker ek lag uit my maag uit! Maar jy’t my ook kom verander, verbeter en my herinner om die wêreld weer opnuut te verken.

Fotograaf: Madison and West Lifestyle Photography

My belofte(s) aan jou:

Ek kan nie belowe om jou te beskerm teen die stampe en stote van die lewe nie, maar ek kan belowe dat ék vir jou ’n veilige hawe sal wees.

Ek kan nie belowe om vir altyd te leef nie, maar ek kan jou belowe dat ek vir jou ’n leeftyd van goeie herinneringe sal probeer gee.

Ek kan nie belowe dat ek nooit foute sal maak met jou opvoeding nie, maar ek kan belowe dat ek elke dag sal opstaan en wéér sal probeer om ’n beter mamma vir jou te wees.

Ek kan nie belowe dat ek altyd die duurste besittings vir jou sal kan koop nie, maar ek kan belowe dat ek vir jou ryk ervarings sal gee, en daarna sal streef om vir jou die eenvoud van die lewe te bied; waar liefde, omgee en lag gratis beskikbaar is.

Ek kan nie belowe dat ek altyd die regte antwoorde sal hê nie, maar ek kan belowe dat ek sal luister en jou in my gebede sal opdra sodat God vir jou Salomo se wysheid gee.

Wanneer ek na jou kyk, kan ek nog steeds nie my oë glo dat God een van sy Meesterstukke aan ons toevertrou het nie. Ek belowe om jou groot te maak in Sy huis, vir Sy koninkryk.

Ek verstaan nou hoe lief God die wêreld gehad het om sy enigste Seun aarde toe te stuur…

Fotograaf: Madison and West Lifestyle Photography

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top