skip to Main Content

’n Brief aan my kind – onthou #lockdown sό

’n Brief Aan My Kind – Onthou #lockdown Sό

Holderstebolder dae. Onseker tye. Dae wat vlietend verbygaan en ander dae wat soos ’n ewigheid voel…

My liefste kind, sό wil ek hê moet jy hierdie tydperk onthou:

Jou aansteeklike glimlag het my keer op keer herinner dat jy nie régtig begryp wat met die wêreld om jou aangaan nie. Maar die verwardheid in jou ogies wanneer ek jou nie dadelik kan optel wanneer ek besig is met ’n aanlyn vergadering nie, sal altyd by my spook.

Die dae waar ek gevoel het ek wil opgee, was jý my rede om op te staan en weer te probeer. Die dae wat die huis se mure my vasgedruk het, het jy my herinner om geluk in eenvoud te vind.

Jou skaterlag as jy wéét jy doen iets oulik, is vir ewig in my geheue vasgevang. Ek sal altyd onthou hoe jy “Mamma, Mamma, Mamma, Mamma”, skree as jy vir my wil wys jy het nog iets nuuts bemeester. Ek sal ewig dankbaar wees vir die voorreg om ’n klomp van jou nuwe mylpale eerstehands te kon beleef.

Ek hoop jy onthou die dae wat Mamma en Pappa vir ’n rukkie langer langs jou kon lê in die oggende, want ons het nie nodig gehad om iewers heen te ry nie. Ek hoop jy onthou dat jy omring was deur mense wat onvoorwaardelik lief is vir jou.

My liefste kind, jy was die laaste paar weke my veilige hawe en die hoogtepunt van my dag. Ek hoop jy vergeet die tye waar ek jou gefaal het… Mag jy terugdink aan die #lockdown en onthou hoe volop liefde was.

Ek hoop jy sal altyd onthou:

– Dat ons nooit enigiets vanselfsprekend moet aanvaar nie.
– Die lewe is onregverdig, onseker en onvoorspelbaar– hê geloof soos ’n kind.
– Jou familie en vriende is jou huis.
– Maak nie saak hoe sleg ’n dag is nie, daar’s altyd iets om voor dankbaar te wees.
– Ons is aanpasbaar.

My droom vir jou is dat jy áltyd die beste van jou omstandighede sal maak – goed of sleg.

Don’t just survive, thrive…

Hooffoto: Anje-Ilana van Dalen | Madison & West Photography

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top