skip to Main Content

Moenie op swanger tone trap nie

Moenie Op Swanger Tone Trap Nie

Ja, daar is sekere dinge wat jy eerder liefs nie vir ’n swanger vrou durf vra nie. Hier volg ’n lys van dinge wat jy kan vermy om seker te maak jy dra nie by tot ’n amper-mamma se slegte bui nie.

  1. Was dit beplan?

Jy wonder dalk nou, wat kan so skadelik aan die vraag wees? Jy as buitestaander het nie ’n idee hoe lank ’n paartjie dalk al sukkel om swanger te raak nie. Jy is dalk ook nie bewus van enige miskrame nie. Dis onsensitief en om doodeerlik te wees wonder ek dikwels wat mense met die inligting gaan maak? Nee, wat! Of dit nou ’n verrassingsbondeltjie is of ’n haarfyn beplande swangerskap is – swangerskap is ’n wonderlike geskenk van Bo! En of dit beplan was of nie – het niks met jou te doen nie?

2.Hoeveel gewig het jy al opgetel?

Sou jy vir iemand wat nie swanger is nie vra hoeveel gewig hulle in die laaste paar maande opgetel het? Nee! So hoekom dink jy dis okay om so iets vir ’n swanger vrou te vra?

  1. Mag jy dit eet?

Oggendnaarheid of 24/7 naarheid? Om swanger te wees is nie altyd een groot fees nie. Jy moet jou koffie verruil vir rooibostee en jou wyn verruil vir ’n glasie sap. Skielik maak jou gunstelingkos jou naar. Jy sukkel om enigiets geëet te kry en al die vitamiene en aanvullings dra net verder by tot jou konstante naarheid. Moet asseblief nie iemand kruisig omdat hulle dalk volgens jou te veel van iets of te min van iets anders eet nie. Niemand oordeel jou omdat jy 4 koppies koffie ’n dag nodig het om te oorleef nie.

  1. Hoop julle vir ’n dogtertjie of ’n seuntjie?

Mmm… Hierdie is nog altyd vir my ’n moeilike vraag gewees om te antwoord, want ek wou régtig net ’n baba hê. Die geslag is nie belangrik nie? So alhoewel die vraag my nie regtig pla nie, het ek net nie presies geweet wat om te antwoord op dié vraag nie.

  1. Kan ek aan jou maag vat?

Daar is niks fout met die vraag nie, maar elke persoon verskil! Hou net ingedagte dat party ma’s mal is daaroor as iemand aan haar maag vat en vryf en ander ma’s haat dit. Dis ’n goeie begin om eers te vra voordat jy net vat, maar probeer om die mamma te respekteer en om haar nie in ’n ongemaklike situasie te plaas nie. Ek het nie omgegee as my vriendinne of familie aan my maag vat nie, maar ’n vreemde oom in die winkelsentrum is vir my net té vreemd!

  1. Vergeet van gruwelstories

Vir een of ander rede het mense die behoefte om vir ’n swanger vrou elke moontlike gruwelstorie oor swangerskap te vertel. “My tannie se dogter se skoonsuster was vir 38 uur in kraam gewees.” “Linda het die lelikste sny van haar keiser! Sy kry dit nie weg nie.” HOU OP!!!! Ek belowe jou elke toekomstige mamma doen haar eie deeglike navorsing oor die geboorteproses; dis nie nodig dat jy haar inlig van elke ding wat moontlik kan skeefloop nie.

Elke swangerskap verskil en elke mamma verskil. Vir sommige vroue sou bogenoemde vrae dalk glad nie gepla het nie, maar probeer jouself altyd in iemand anders se skoene plaas en dink voordat jy sommer net ’n opmerking maak of ’n sensitiewe vraag vra. Moenie ’n nuuskierige agie wees nie en bied eerder jou hulp aan of vra hoe jy jou vriendin kan help en bystaan!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top