skip to Main Content

Honde en kinders – kan almal in harmonie saamleef?

Honde En Kinders – Kan Almal In Harmonie Saamleef?

Cooper is ons oudste (en soms stoutste) kind, maar as dit by sy baba boetie kom; dan maak hy seker dat D’Niel veilig en versorg is.

Cooper het op die 1ste Mei 2018 by ons #TheronTribe aangesluit. Op daardie stadium was ek ongeveer 11 weke swanger met D’Niel. ‘n Baba hondjie en baba mensie in een jaar kan nogal wild wees, maar ons is baie bly dinge het so uitgewerk.

In Meimaand was my ‘morning sickness’ nog 24/7 so my arme man het die meeste van die tyd die ‘potty training’ gedoen. Hy is ’n bol fluff gewees toe hy klein was – hy’t soos ’n lewende klein teddiebeer gelyk. Cooper was van die begin af ’n cute hondjie met ’n sterk wil van sy eie.

Net soos ’n regte kind; weet Cooper ook hoe om sy ouers te manipuleer. Hy het lang wimpers en groot, donker ogies wat baie hartseer lyk as hy in jou stemtoon kan hoor jy is kwaad. Hy weier ook om ’n halsbandjie te dra en om saam met Cooper te gaan stap is ’n oefensessie op sy eie.

MAAR ons is so lief vir hom!

Fotograaf: Nicole van Niekerk

Ja, hy was gewoond aan baie aandag, liefde, tyd en treats, maar vandat hy ’n Ouboet geword het, het hy homself goed gedra en altyd vir D’Niel beskerm.

Baie mense het vir ons gevra hoe het Cooper aangepas vandat daar iemand anders is wat al die aandag kry?! Ons was aangenaam verras. Cooper is ongelooflik beskermend teenoor sy baba boetie en hy was nog nooit afgunstig of aggressief teenoor D’Niel nie. Inteendeel is dit D’Niel wat rof met Cooper speel. Hulle baklei soms oor speelgoed, want D’Niel is lief daarvoor om Cooper se speelgoed te vat. Ander kere trek D’Niel aan Cooper se snorbaard of stert en dan sit Cooper maar net tjoepstil en wag dat D’Niel moeg raak vir die speletjie.

Soms blaf Cooper op die onmoontlikste tye, soos byvoorbeeld as D’Niel sopas aan die slaap geraak het… In daai oomblik moet ek soms tot 10, of 20 of selfs 100 tel… Ander kere wil my hart bars van trots om te sien hoe dié twee lekker saam speel en dat D’Niel sy koekies met Cooper deel.

Fotograaf: Dune Kahlau Photography

Cooper is ’n miniatuur Schnauzer en hy’t ’n goeie instink vir goeie en slegte mense 😉. Ek kan nie namens ander mense met ander tipe honde praat nie, maar vir ons was die aanpassing met ’n nuwe baba en hond maklik. Ons glo dis heeltemal moontlik om gelukkige diere en kinders onder een dak groot te maak. Ons dink ook dis baie goed vir kinders om van kleintyd af te leer om na diere om te sien. Ja, kinders en honde kan in harmonie saamleef.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top