skip to Main Content

Dudu Baba

Dudu Baba

Ek verstaan wraggies nie waar kom die sê-ding van “ek’t gisteraand soos ’n baba geslaap” vandaan nie, want babas word kort-kort wakker.

Gelukkig was ons van daardie gelukkige ouers. Ons pasgebore baba het van die begin af 4-5 ure aanmekaar geslaap in die aande en wanneer hy wakker word het hy nie gehuil nie, net gekriewel en gekla. Toe D’Niel 2 en ‘n half maande oud was, het hy begin deurslaap. Enigiets tussen 20:00-21:00 in die aande tot 06:00 of 07:00 die volgende oggend. Ons het soos trotse ouers gevoel, want as jou kind goed slaap beteken dit mos jy as ’n ouer het iets reg gedoen, of hoe?

Die vier maande ‘sleep regression’ het gekom en gegaan en D’Niel het nog steeds deurgeslaap. YAY!

Toe word D’Niel 6 maande oud… In dié maand het hy sy eerste verkoue gekry, sy eerste tand gesny, sy eerste woordjie gesê en begin kruip. Dit was ‘n maand vol mylpale – sommiges goed en ander was baie moeilik vir ons almal. D’Niel het ook besluit dis sommer bog om langer as ‘n uur aanmekaar te slaap. En skielik was ons deel van die statistiek van ouers wat doodmoeg en geïrriteerd opstaan elke oggend.

Ek’t gedink dis dalk net ’n fase of tande of verkoue wat hom dalk wakker hou en ek het probeer om op my tande te byt en deur te druk. Ek’s mos nie die eerste mamma wat al hierdeur moes gaan nie. D’Niel het net slegter en slegter begin slaap en sommige aande was ons elke uur wakker.

Wanneer jy nie genoeg slaap inkry nie, word enige molshoop van ‘n probleem, ‘n berg! Ek was M.O.E.G. en ek’t min geduld gehad. Ek’t gesukkel om enigiets deur die dag gedoen te kry en ek het elke aand opgesien daarna om vir D’Niel aan die slaap te probeer kry. Dit is ure se sus, stoot in die waentjie en borsvoed. Uiteindelik slaap D’Niel… En ‘n uur later is hy weer wakker.

Dit was tyd vir #PhoneAFriend. Ons was raadop. So het ons besluit om met sleep training te begin… Ek het dit as ons heel laaste opsie gesien, omdat ek al so baie ‘slegte goed’ van sleep training gehoor het. Ek’t met ’n vriendin gepraat wie se seuntjie so twee maande ouer as D’Niel is en hulle het gevoel sleep training is die beste geld wat hulle in hulle kind en gesin kon belê.

So dalk moet ek net eers begin deur te verduidelik hoekom ek gekant was teen sleep training:

  • Jy moet ophou borsvoed.
  • Jy laat jou kind huil en skree totdat hulle nie meer kan nie en aan die slaap raak.
  • Jy mag nie jou kind in die oë kyk wanneer julle besig is met die slaaproetine nie.

Ons het deur Good Night Baby gewerk, en nie een van dié bogenoemde taktieke is eers voorgestel nie!! Ek wou op daardie stadium ophou borsvoed omdat ek D’Niel se slegte slaapgewoontes met borsvoeding geassosieer het en ek kon net nie meer so aangaan nie. Ons konsultant het my egter aangemoedig om aan te hou borsvoed as dit my enigste rede was hoekom ek wou ophou, want sy het gesê D’Niel gaan nou begin beter slaap. Sy het ook nie een keer vir ons gesê om vir D’Niel te los laat hy maar huil nie. En ek kon soveel as moontlik oogkontak met my kind maak soos wat ek wou. Dus was ek verniet bekommerd dat ek die goeie band wat ek met my kind het, sou breek omdat ons sleep training doen.

Good Night Baby werk vir jou en jou gesin ’n slaapplan uit wat werk vir julle omstandighede. Daar’s soveel faktore wat in ag geneem moet word wanneer ’n mens se kind ’n slegte slaper is. Ons konsultant het soveel moeite gedoen om presies uit te vind hoeveel D’Niel eet, drink, slaap, hoe hy aan die slaap raak, hoe sy kamer lyk, wanneer hy moeilik raak, ensovoorts.

Ons is nog steeds nie 100% daar waar D’Niel homself maklik aan die slaap kry nie, maar ons slaaproetine het 100% verbeter. Die meeste aande slaap D’Niel deur en vandat D’Niel bad totdat hy vas aan die slaap is, vat ons maksimum 45-minute, ander aande is dit sommer net 20-minute. Ek sien nie meer op na bad- en slaaptyd nie! Ek is opgewonde om kwaliteittyd saam met my kind in ons badkamer deur te bring waar ons speel en lag en borrels blaas en daarna trek ons nagklere aan en lees saam Bybel… En sonder ’n gesukkel raak ons liefste seuntjie maklik in sy kot aan die slaap. Ons cuddle nog steeds voor slaaptyd en tel hom op wanneer hy kerm. Maar dit vat my nie ’n uur na twee ure om hom aan die slaap te kry nie.

Elke baba is anders en elke gesin se omstandighede is anders, maar sleep training het beslis vir ons gewerk. Teen 19:00 in die aand kan ek en P.D. rustig ons kos eet en gesels oor ons dag. Dit was die beste geld wat ek al ooit uitgegee het.

’n Paar dinge om ingedagte te hou wanneer jy sleep training oorweeg:

  • Ons het GEEN ervaring met ander sleep training dienste nie en kan nét getuig oor ons ervaring deur Good Night Baby SA.
  • Sleep training is nie magical sprinkles wat jy elke aand oor jou kind strooi en dan slaap hulle beter nie. Dit is harde werk en jy moet aanhou met jou roetine.
  • Jy en elke persoon wat gereeld na jou kind omsien moet inkoop op die sleep training roetine. Dit help nie net een persoon volg dit nie…
  • So werk die proses: Jy vul eers ‘n volledige vorm in met jou kind se voor- en afkeure, roetine, eetgewoontes en slaapprobleme. Daarna het ons ’n konsultasie saam met een van Good Night Baby SA se konsultante, Anita van Wyk, gehad. Sy’t vir ons ’n paar voorstelle gemaak van dinge wat moontlik ’n invloed op D’Niel se slaappatroon kon hê.
  • Daarna het ons vir twee weke ‘n uitgewerkte slaapplan gevolg volgens ons behoeftes gevolg. Ons konsultant, Anita, was vir twee weke elke dag beskikbaar om ons deur die proses te lei, motiveer en aanpassings te maak waar nodig.
  • Daar’s hulp beskikbaar! Jy hoef nie elke aand, elke uur wakker te word nie. Jy kan weer ’n goeie nagrus kry, SONDER dat jy die band tussen jou en jou kind skade aandoen.

As jy enigiets anders wil weet, stuur vir ons ’n e-pos na hallo@koekemakranka.net 😊.

Dis nou tyd vir Baba (en Mamma) om ’n slapie te vang…. zzzz

This Post Has 2 Comments
  1. Baie dankie dat jy die positiewe aspekte van slaap-opleiding hier noem. My verstaan daarvan was (tot nou toe) ook dat jy jou kind moet los om hul oë uit te huil terwyl jy aan die ander kant vd deur staan en huil. So bly dit is nie waar nie en dat iemand julle met D’Niel se slaap roetine kon help. ‘n Uitgeruste Mamma sien vir soveel meer kans!

    1. Dankie, Estelle. Ja, dit is vir my so belangrik om ouers bewus te maak dat daar nie net een manier van sleep training is nie. Kinders voel veilig in roetine, maar jy hoef nie roetine op hulle af te dwing en hulle te laat “huil” totdat hulle die roetine gewoond raak nie. En jy is definitief reg – ‘n uitgeruste mamma sien vir baie meer kans!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top