Idees vir jou besige 1-jarige

Om ’n peuter of kleuter heeltyd binne ’n huis besig te hou, is nie kinderspeletjies nie.
Om jou kind ‘besig’ te hou, veral wanneer hulle nog klein en baie afhanklik is, kan uitdagend wees. Suid-Afrika is gelukkig een van die lande met die beste weer. Buitespel verg nie té veel nie, want kinders kry maklik iets in en om die tuin om hulself mee besig te hou, maar ’n huis se vier mure kan jou (en jou kind) vinnig vasdruk.
Wat doen jy dan heeldag? Dis nou as jy nie té veel tyd voor die televisie wil spandeer nie? Of hoe hou jy jou kind besig sonder dat dit lyk asof daar ’n tornado deur jou huis geslinger het?
Hier’s ’n paar idees wat goedgekeur is deur een van die besigste 1-jariges (indien nie dié besigste nie) in die Suidelike Halfrond.
- Musiek, Mamma. Sit YouTube in die agtergrond aan, en sing, dans, lag, en vergeet vir ’n oomblik dat jy nooit gekies was vir die skoolkoor of jou Universiteit se koshuissêr nie. Jy kan ook jou eie instrumente maak deur rys in ’n leë waterbottel te gooi of ’n leë formuleblik as ’n drom te gebruik.
- Bou blokkies. Gooi die blokkies uit die krat uit. Bou ’n struktuur. Breek die struktuur af. Begin weer oor. Bou en breek. (Sodoende doen julle sommer ’n oefening in analise-en-sintese)
- Die beste uitvindsel ooit? Kryte wat op glas kan teken! Daar’s darem maar niks so lekker soos om te teken op plekke waar jy nie régtig mag teken nie. Ons het by WestPack ’n stel kryte gekoop wat maklik van glasdeure of vensters afwas.
- Babbels en borrels. Wanneer ek vir ’n paar minute wil stilsit (?) dan sit ek die borrelmasjien aan en speel lekker musiek in die agtergrond. Jy kan ook op die bank sit en borrels blaas as julle nie ’n masjientjie het nie. Kinders wil gewoonlik die borrels probeer vang en hol agter elke klein bubble aan.
- Storietyd is kwaliteittyd! Lees is lekker en baie belangrik en dit sal vir Mamma ook ’n oomblik gee om bietjie te sit. Niks is so ontspannend as storietyd nie… Selfs vir ’n mamma! Om meer te lees oor hoe om van kleins af ’n liefde vir lees by jou kind te kweek, klik hier.
Fotograaf: Nicole van Niekerk
- Bou julle eie “fort” met strooikussings, komberse, matrasse en die rusbank. Julle kan lekker lê en storie lees in die fort. Of wegkruipertjie speel. Dis ook die ideale plek om vir jou kind se verbeelding vlerke te gee… As ’n fort na té veel opruimwerk klink, oorweeg dalk ’n Teepee Tent.
Teepee: Totem Teepee
- Op hierdie ouderdom is inkleur nie altyd ’n wenner nie, maar partykeer hou dit ons so paar minute besig, al is dit nou net om deur die prentjies te blaai.
- Tyd vir ’n peuselhappie. Laat jou kind toe om jou te help om kos te maak. Ja, dit gaan morsig wees, maar op dié manier leer hulle en jy kry darem ook iets geëet. Omdat ons die Baby Led Weaning-roete gevolg het, gee etenstyd vir my ook ’n paar minute van vrede – ek hoef niemand te voer nie, en dis pret om self te kan eet :).
- Tyd vir kaste regpak (of eerder deurmekaarkrap). Ons het vroeër die jaar twee van ons kaste omgeruil – die kas waarin ons Tupperware was is nou onder en ons het ons glasbakke- en houers in ’n hoër kas gepak. Ons het dit juis gedoen sodat daar een kas is wat gereeld in- en uitgepak kan word. Een kas waar ons 1-jarige kan speel en verken. Dit hou klein handjies vir ’n redelike rukkie besig.
- Elke kind het ’n gunsteling. ’n Gunsteling: karretjie, teddiebeer, pop of kombersie. Trek dit nader en speel-speel saam. Ons moedig ook van kleintyd af onafhanklike spel aan, en ons het paar wenke op Groeipyltjie se webtuiste gekry.

Fotograaf: Madison & West Lifestyle Photography | Teepee: Totem Teepee
Reënerige dae en inperking sorg vir vele ure se binnenshuise pret en ’n innoverende Mamma en Pappa. Vergeet vir ’n oomblik van die skottelgoed wat wag en geniet die dag!
Fotograaf hooffoto: Anje-Ilana van Dalen | Madison & West Lifestyle Photography