skip to Main Content

Hoekom ons besluit het op Baby Led Weaning

Hoekom Ons Besluit Het Op Baby Led Weaning

Baby Led Weaning – die beste, morsigste manier om jou kind aan vaste kos te begin blootstel.

Vaste kos – die wanneer en die hoe, is seker een van die onderwerpe waaroor mense die heel meeste verskil. D’Niel is nou twee jaar oud en ek kan met ALLE eerlikheid sê – doen wat vir JOU en JOU gesin en JULLE omstandighede werk. Vir ons het BLW baie goed gewerk, en as jy dit oorweeg om ook die BLW-roete te volg of bietjie meer wil lees daaroor, dan is hierdie blog vir jou.

Foto: Nicole Van Niekerk Photography

Wat is Baby Led Weaning?

Baby Led Weaning (BW) is ’n manier om jou baba aan vaste kossies bekend te stel. Jy begin met vingerhappies en baie klein porsies van régte kos en jou baba tel self die kossies met sy/haar hande op en proe, voel en eet. Die kos word in kleiner happies en stukkies gesny, maar dis nie so verfyn dat dit in die vorm van puree vir jou kind gegee of gevoer word nie.

Die voordele van BLW is:

Elke kossoort het sy eie vorm, tekstuur, kleur en smaak. En dis een van die redes hoekom ek sterk gevoel het daaroor dat ons BLW doen! Ek wou vir D’Niel aan vaste kos bekendstel presies soos wat hy dit sou eet wanneer hy ouer is.

Hier is nog ’n paar voordele van Baby Led Weaning:

  • Baba is meer eiehandig
  • Spaar tyd om kos vir Baba te puree
  • Minder kieskeurige eter
  • Proe van vroeg af dat verskillende kosse verskillende teksture het
  • Moedig fynmotoriese vaardighede aan
  • Baba is meer selfstandig
  • Dit is goedkoper

Aan die heel begin was dit bietjie uitdagend en D’Niel het nie régtig geëet nie. Hy het met die kos gespeel, en daaraan geproe en soms geëet, en ander kere die kos uitgespoeg. Gelukkig is melk die hoofbron van voeding vir die eerste jaar  van ’n baba se lewe, so ek het nie té veel daaroor gestres nie. Ek wou net solank die goeie verhouding tussen my kind en kos aanmoedig! “Food before one is just for fun?” MAAR ons het later begin sukkel met D’Niel se gewig (hy was ondergewig) en die pediater het aanbeveel dat hy minstens paar happies vaste kossies inkry om sy gewig mooi te laat optel.

Ek het toe begin om elke oggend vir hom pap te voer en tydens etenstyd het ek paar happies kos ook vir hom gevoer om seker te maak hy neem iets in en dan het hy die res van die tyd self geëet en aan die kos geproe.

Vandag eet hy selfstandig sy eie bord kos en daar is byna niks wat D’Niel nie eet nie. (Ja, hy eet selfs so nou en dan hondepille uit vrye wil…) Hy is baie lief vir groente en vrugte en hy weet ook hoe om ‘n mes en vurk en lepel te gebruik. Aan die begin was maaltye BAIE morsig, maar dit gaan al baie beter, en Cooper, ons miniatuur Schnauzer, gee nie om as D’Niel so nou en dan ’n paar happies kos op die vloer laat beland nie.

Hier is ’n paar dinge om ingedagte te hou as jy dit oorweeg om met BLW te begin:

  1. Die begin kan dalk moeilik en frustrerend wees

Onthou vir ’n hele ruk was jou baba gewoond aan melk, hetsy borsmelk of bottel. Kos gaan iets vreemd en anders wees en dit mag dalk ’n rukkie vat vir jou en Baba om aan die nuwe fase van vaste kossies gewoond te raak. Gee dit kans. Moenie na die eerste probeerslag tou opgooi nie. Moet ook nie na die eerste keer besluit jou kind hou nie van ’n spesifieke kossoort nie.

  1. Jy en baba eet (amper) dieselfde kos

Een van die voordele van BLW is dat jou baba jou kos saam met jou kan eet, maar daar moenie suiker of sout by wees nie en definitief ook nie branderige souse nie. Ek maak eers kos en skep dan bietjie vir D’Niel uit voordat ek sout of speserye bygooi.

     3.Dis morsig, maar só lekker

Ja, BLW is meer morsig. Dis hier waar Trendlings se bib en ‘grippy plate’ ons lewe aansienlik makliker gemaak het. Maar in die langtermyn gaan jou kind vinniger leer hoe om self te eet. Ek belowe die mors  raak minder en die pret tydens etenstyd vermeerder!

  1. Jou baba kan dalk “gag”

Die eerste paar kere skrik jy as jou baba daai “gag-geluid” maak, maar hulle leer hulself so om nie te verstik nie. Onthou dat jy eers met vaste kos moet begin sodra Baba selfstandig en alleen kan regop sit. 

  1. Ons gunstelingkosse vir BLW 

Ons is mal oor roereier en dis maklik en vinnig om voor te berei. Ons hou ook daarvan om vrugte en groente vir D’Niel te gee. Vrugte wat veral lekker werk is appels wat in kleiner skywe gesny is of  ’n piesang wat ek in kleiner stukke sny. Pampoen is ook altyd ’n wenner. O, en dan is daar die spinasie-hasie. Vandag D’Niel ’n jaar oud geword het het ek vir hom klein stukkies kaas ook gegee om as peuselhappie tussen maaltye te geniet. Daar is eintlik so baie idees en opsies, maar ons is veral mal oor blogger en mamma, Estelle Eloff, se idees vir middagete. Klik hier. 

As jy wil weet watter kossies die beste sal wees vir jou en jou gesin se behoeftes, klik hier om  Lize Esterhuysen, dieetkundige en borsvoedingskonsultant, se raad te lees. 

Foto: Nicole Van Niekerk Photography

Trendlings 

*GIFTED Trendlings het die hele BLW-proses vir ons baie makliker (en skoner) gemaak ;)!

Voordat ek geweet het van Trendlings se produkte het ek bibs gekoop wat van plastiek gemaak is. Die bibs is veronderstel om ook maklik af te vee na ’n ete, maar ek het nie geweet die plastiek kan so gou skeur nie. Die velcro waar jy dit vasmaak het geskeur, asook die bib voor. Jy kan ook nie die plastiek in die wasmasjien gooi nie. Wat Trendlings se bib ideaal maak is dat jy dit maklik kan afvee na ’n ete en as dit régtig baie vuil is dan gooi jy dit gou deur die was, want dis van materiaal gemaak. Ek hou ook daarvan dat die een bib van Trendlings langmoue het, want dit beskerm al sy klere en verhoed dat daar op vreemde plekke kos agterbly. Die bib is waterdig en het ’n klein sakkie voor wat enige krummels of kossies wat val, vang. Die bib maak seker dat jou kind droog en skoon bly gedurende etenstyd. Dit kan ook gebruik word wanneer jou kind besig is om te speel met iets wat klere kan vlek of vuil maak. Ek sou sê hierdie bib is ’n belegging in jou kind se toekoms :)!

Die ‘grippy plate’ is regtig baie stewig as dit reg teen die oppervlak vasgesit word. Dit suig vas teen die oppervlak wat verhoed dat die bord op die vloer kan beland en dat kossies kan mors. Dit maak ook baie gerieflik skoon. Die bordjie word in drie dele gedeel so jy kan meer as een kossoort in die bordjie pas en dit sal nie aan mekaar raak nie. Die bordjie kan ook in die skottelgoedwasmasjien, mikrogolfoond en vrieskas kom. Dit kom met ’n bypassende deksel so jy kan die kos maklik daarin vervoer of die deksel opsit en die kos in die yskas bêre. As jy enige navrae het kan jy vir hulle ’n e-pos stuur by info@trendlings.co.za Ek het vir D’Niel nog bibs bestel en ook as geskenke vir toekomstige mammas gekoop. Besoek hulle webtuiste deur hier te klik.

Ek wil graag van jou hoor! Hoe het julle begin met vaste kossies? Het julle BLW gedoen of kos puree? Of het julle ’n kombinasie van dié twee probeer? As jy nog enige vrae het, laat weet my of stuur vir ons ’n e-pos by hallo@koekemakranka.net :).

*Ek is net ’n gewone Mamma. Ek deel graag my eie ondervinding, maar is nie ’n kenner nie. Raadpleeg jou mediese dokter of pediater wanneer jy onseker voel oor of iets geskik is vir jou kind. Jy kan ook vir dieetkundige, Lize Esterhuysen, kontak oor dié moets en moenies van Baby Led Weaning. 

This Post Has 2 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Back To Top